RUMPSTEAK - GERRIE SE BRAAI WENKE

by Johan van der Walt


Die anderdag middag sit ek so eenkant daar by die watergat, toe ou Gerrie daar instap. Voor jy kon sê mes, het daar so koue enetjie voor hom verskyn. Hy het my gegroet en toe gesê: “Ek het vir jou ‘n paar baie interressante idees oor vleis gaarmaak op die kole”.
 
Ek het hom al baie gevra vir ‘n paar lekker resepte of idees, want die man kan lekker braai, potjie maak en dies meer en hy het altyd ‘n nuwe ding of twee wat hy op die proef stel.
 
Ou Gerrie en ek ken mekaar al baie jare. So ‘n paar jaar gelede was ons almal saam in die Kruger Wildtuin en daar het ek gesien, hierdie man se hande staan vir niks verkeerd nie en hy kan “organize”. As hy ‘n trip beplan, dan kan jy maar weet daar sal niks met die logistiek verkeerd wees nie – alles sal klopdisselboom werk.
 
Hy is ook ‘n groot gees wat al voorsitter was van verskeie instansies, komitees en sulke dinge en sy leiding is altyd uit die boonste rakke.
 
Nou kyk, as ek aan Gerrie dink sal twee dinge my altyd by bly – dis nou behalwe dat die man kan kuier. Lank na almal en die vleis al gaar is, sal hy nog daar staan - so vars en skerp as wat hy was toe die dag begin het.
 
Soos ek gesê het - twee dinge sal my altyd by bly - die een was toe ons tot laataand in die bosveld gekuier het om die kampvuur en diep stories gesels het en natuurlik het die laatoes van die wingerde maar goed saam gepraat. Die ander ding wat my by bly sal ek later oor praat.
 
Voor ek nou aangaan wil ek net gou vir die ongeduldiges sê: As jy ver woon, moet jy of bietjie wag, of jy moet nou maar jou ry kry, want ek gaan nie gou praat nie en as ek begin praat, dan praat ek tot ek klaar gepraat het.
 
In elk geval, daar was so ‘n driestuks ratels wat daar aangekom het vroeër die aand. Hulle het seker maar gedink hulle mag deel in ons aandete en het die hele tyd daar rondgesnuffel. Ons het hulle ligtelik probeer verjaag, want dis nie goed as wilde diere so gewoond raak om by ‘n kamp-plek te aas nie. Netnou kom daar probleme. Maar al wat die ratels gedoen het was om so vir ons te staan en kyk en dan te grom. Nou ja, dan los mens maar liewer vir ratel en sy maats uit en hou maar net jou kos ensovoorts goed dop, sodat dit nie in een van die gediertes se maag beland nie.
 
Dis nou eintlik so bietjie later daardie aand toe Gerrie se diep basstem gedreun het oor die veld terwyl ons liedjies van vroeëre jare gesing het. Toe die refrein van die een ou liedjie kom en Gerrie staan op en laat bulder daar oor die wye bosveld: “Walderiiieeeeeeee, walderaaaaaaaaa”, toe gee die ratels so ‘n onaardse gekerm, los ‘n nare reukie agter en laat spaander in alle rigtings. Hulle het daardie aand nie weer teruggekom nie.
 
Dis nou die dat ek altyd sê, Gerrie was die enigste ou wat ek met my eie oë gesien het, wat ‘n Ratel met sang kon verdryf.
 
Maar dis eintlik oor die ander ding wat my by bly waaroor ek wil praat. Jare gelede het Gerrie besluit om ‘n draai te gaan maak, daar by die olie-sheiks van Arabië. Hy het toe opgepak en soontoe gegaan – daar gewerk seker amper vir twee jaar as ek reg is. Terugkom na Suid Afrika toe vir vakansies was daar maar selde voor kans maar as die kans opgeduik het, dan het Gerrie, soos alle ander Suid-Afrikaners maar doen, geskenke teruggebring huistoe. Dis nou vir so paar verkose vriende en familie, maar dan ook natuurlik veral vir homself. Soos hy self gesê het, ‘n man moet darem so 'n speeldingetjie of twee hê.
 
Toe hy klaar daar gewerk het het en terug huis toe kom, word ek en ‘n paar vriende uitgenooi vir ‘n lekker braai daar by sy huis. Ek dink die Bulle het gespeel teen die WP (Gerrie is gebore en getoë daar in die Kaapse geweste en dus ‘n getroue WP ondersteuner). Hy het ook self rugby gespeel, stut natuurlik, en as mens so na hom kyk, dan dink ek dat hy selfs vir “Beast” sou laat kreun het.
 
Nou ja die dag het aangebreek en ons is toe almal daar na Gerrie toe. Daar aangekom was dit nie lank nie of hy roep ons almal nader vir die ding wat hy ons nou wil laat hoor. Kyk, daardie jare was groot TV skerms en “surround sound” nog ‘n redelike nuutjie in Suid Afrika. En dis nou juis wat hy vir ons wou wys.
 
Hy het ‘n groot TV skerm asook ‘n reuse “surround sound-sisteem” teruggebring. Dit was toe omtrent net te sien in “sports bars” en so aan.
 
Ons is toe almal daar in die sitkamer nadat Gerrie ons geroep het en hy sit ‘n DVD in die sisteem en laat waai. Ewe skielik deins daar ‘n vliegtuig op daar op die skerm – lewensgroot man, lewensgroot – die vliegtuig was nou soos die Engelse sê, ‘n “fighter plane” – ‘n Mirage of ‘n Mig of so iets.
 
Met ‘n kakafoniese lawaai voortgebring deur die uitstekende klankstelsel, vlieg hierdie vliegtuig daar oor die skerm – so erg dat jy dink dis nou wragtag amper die einde van die lewe soos ons hom ken. Man die ding het skaars klaar gevlieg of die telefoon lui. Die klank word afgedraai en Gerrie antwoord die foon. Dis toe sowaar die buurman wat ver van hom af bly, wat vir Gerrie vra of hy weet wat gaan aan, want hy dink daar word ‘n aanval op die buurt geloods – ek weet nou nie of die buurman gedink het Zimbabwe val die buurt aan nie, maar in elk geval.
 
Nodeloos om te sê dat die buurman later nie so in sy noppies was toe Gerrie die toneel met die klank weer so paar keer daarna weer gespeel het nie, want sy honde en katte (dis nou die buurman s’n), vrou en kinders het daarna almal saam onder die dubbelbed gaan wegkruip.
 
Maar dis daardie laaste keer toe Gerrie die gedoente weer op sy hardste draai en die buurman se huishulp en tuinjong aansluit by die res van sy (die buurman) se familie, honde, katte en diesmeers, daar onder die dubbelbed waar hulle gaan skuil het. Dit was die ergste.
 
Die buurman het toe weer gebel, amper in trane en vir Gerrie vertel dat hulle nou ‘n baie groot probleem het daar by sy huis, want almal is onder die dubbelbed en wil glad en geheel nie daar uit nie, altans nie tot die aanval verby is nie. Gerrie het toe maar om die vrede te bewaar, maar daardie dag die klankstelsel vir eers laat staan.
 
Ons het toe verder gaan braai en later rugby gekyk – op daardie groot skerm. Die WP het nog vir die Bulle ‘n pak slae gegee – een van die min kere in daardie jare.
 
In elk geval so van die os op die jas en terug by die braai wenke. Kyk ou Gerrie is ‘n groot man en as hy praat dan luister jy want hy herhaal nie sommer iets wat hy klaar vertel het nie – hy dink dis tydmors. So ek het goed geluister. 
 
Hier volg so twee interressante maniere om steak gaar te maak op die kole, veral in die bosveld gedurende die koue wintermaande.  
 
Wat my veral byval by beide hierdie volgende twee metodes, is die tyd wat mens spaar so tussendeur – sodoende kan jy konsentreer op die belangrike dinge en dis om die elmboog goeie oefening te gee met so koue enetjie of drie, terwyl die vleis nou mos self gaar word.
 
Die eerste een is meer om tyd te spaar en ook te voorkom dat al die ander vleis al gaar is en die steak nog nie – dis veral vir T-Bone.
 
Wanneer jou kole lekker warm en reg is, plaas jou ander vleis op die rooster en terselfdertyd ook jou T-Bone. Maar jou T-Bone plaas jy met slegs die been vertikaal onder op die rooster (maw. die steak staan so regop). Jy draai ook nie jou T-Bone nie, jy los hom net so totdat die ander vleis reg is en dan kan jy as jy wil net gou die rooster laat sak en die T-Bone vinnig vir so 1 minuut aan elke kant braai om te verbruin buite.
 
Dis volgende metode is ook nou nie eintlik ‘n braairesep nie maar net ‘n lekker manier om Rump steak gaar te maak.
 
Hier volg dit en soos altyd moet jy dit maar aanpas soos dit vir jou werk.
 
Bestandele:
Een lekker dik gesnyde stuk Rump Steak
Gewone Mosterd of Engelse mosterd
Growwe sout – genoeg daarvan
 
Metode:
Neem ‘n lekker dik gesnyde Kruis-skyf (Rump steak) en smeer dit baie goed en dik met gewone of as jy wil Engelse mosterd in. Dit moet baie dik opgesmeer word en die hele stuk Rump bedek.
 
Neem dan growwe sout en pak dit aan om die mostertgesmeerde steak. Die growwe sout wat mos vassit aan die mosterd moet ook ‘n dik laag wees.
 
Gaarmaak:
Plaas die stuk vleis dan net so op die kole - dit moet baie warm wees - vir omtrent 10 tot 12 minute. Jy kan so paar kole bo op skep met die graaf sodat die hele rump nou soort van bedek is met kole en omring met hitte – sodat die vleis oral oor egalig gaar word.
 
Nou hier is die tyd wat mens spaar soos ek vroër gesê het – terwyl jy nou wag en sit en kyk vir die vleis om gaar te word – gebruik dit nou mos nuttig man. Gooi vir jou en jou vriende so vinnige enetjie of twee, die vleis word mos op sy eie gaar!
 
Haal dan die Rump van die kole af na sowat 10 tot 12 minute (Hou maar dop en oefen maar so ‘n paar keer dit kan minder tyd ook neem). Slaan dan die sout-kors wat gevorm het, af. Daarsy – lekker gaar buite en binne so sappig dat jy die bees kan hoor bulk.
 
Dankie Gerrie, ek is seker heelwat mense gaan baie lekker eet as hulle die metode reg doen.
 
Saamgestel deur Johan van der Walt