BRAAIBROODJIE – DARREL SE SPOOKASEM

by Johan van der Walt


Baie mense sal sê – dis mos nou maklik en eenvoudig man, almal kan dit maak. Dit mag so wees ja, maar daar is heelwat mense wat dit verfomfaai deur die broodjie te verbrand, te veel of te min botter opsmeer, of te veel peper, sout of ander dinge opgooi. Maar ja, dit is eintlik eenvoudig. In elk geval, eenvoudig of te not, ek het gesê ek gaan ‘n paar verskillende maniere hoe om ‘n braaibroodjie te maak hier plaas en hier is een manier.
 
Darrel Adendorff het grootgeword op ‘n plaas daar in Greytown se wêreld, in KwaZulu - Natal en dis waar die man geleer isiZulu praat het. So vlot kan hy die taal praat dat as jy jou oë toeknyp (en partykeer sommer met oop oë), sal jy sweer dis ‘n Zulu wat daar praat. Hy is lief vir sy braai en dis nou eintlik waaroor die ding gaan.
 
Hy het my vertel dat sy gunsteling vir ‘n braai, so ‘n lekker T-Bone steak is, met – en dit is wat hy hom noem – spookasem. Ek het hom so met ‘n frons aangekyk en gewonder waarvan hy dan nou praat. Hy verduidelik toe vir my dat dit nie die spookasem is wat jy by kermisse en dies meer kry nie. Dit is ‘n braaibroodjie en omdat dit so lekker bros is wanneer hy dit braai, dit amper soos spookasem is.
 
Ou Darrel het so lang teug aan sy drankie geneem en toe vertel hy vir my hoe hy sy spesiale “spookasem” maak. Hier volg Darrel se Spookasem Braaibroodjie.
 
DARREL SE SPOOKASEM BRAAIBROODJIE
 
Bestanddele
 
Genoeg vir een broodjie.
 
• Twee dun (maar nie te dun nie) snye witbrood
• Botter
• 1 x Medium grootte wit ui
• 1 x medium tamatie
• Blatjang (Chutney) – gebruik sommer Mrs. Balls (Darrel gebruik sy eie tuisgemaakte blatjang)
• Sout
• Peper
• Kaas – ‘n paar snytjies dun gesny (hy verkies cheddar)
• Gare of baie dun tou om die broodjie mee vas te bind – opsioneel
• ‘n Vuur wat lekker brand
• ‘n Koue drankie byderhand
 
Voorbereiding 
 
Neem ‘n slukkie van daardie lekker koue drankie en sit jou glas neer. Smeer die twee snytjies brood met ‘n dun lagie botter (bitter min) aan beide kante. Sit hulle nou op ‘n bord neer en pak dan die een sny met eers ‘n lagie tamatie, dan ‘n lagie uie en dan ‘n lagie gesnyde kaas – dit moet die oppervlakte van die broodjie dek.
 
Strooi nou so ‘n klein bietjie sout en peper na smaak op en smeer dan die blatjang bo – op. Plaas die ander snytjie brood daarop met die botterkant na onder. Bind die gare of dun stukkies tou in ‘n kruisvorm om die broodjie sodat die broodjie nou stewig vas is. Plaas die broodjie in jou spesiale rooster of sommer bo-op (jy kan ‘n eierspaan gebruik om dit om te draai).
 
Braai die broodjie
 
Gooi vir jou solank nog ‘n drankie in. Krap ‘n paar kole eenkant toe en toets die hitte asseblief ordentlik want die kole moet minder as medium warm wees, anders gaan jy jou broodjie verbrand. Plaas nou jou rooster (met die broodjie) op ‘n staander of bakstene op die kole – dit moet baie hoog van die kole af wees - hoog genoeg om nie te brand nie, maar net stadig te braai.
 
Hou daai broodjie nou goed dop. Neem dan gerus eers nog ‘n slukkie van daardie drankie wat jy netnou al ingegooi het. Hierdie ding moet mooi beskou word. Kyk, jy wil hê die broodjie moet goudbruin en kraaksmaaklik daar uitkom. So die broodjie moet stadig braai – dis die geheim. Die kaas moet eers smelt voor die broodjie begin bruin word aan die buitekant. Hou hom daarom mooi dop en draai dan om sodat hy net so mooi goudbruin aan die anderkant kan word.
 
Jy sal sommer sien as hy reg is, want dan is jou drankie seker ook al klaar. Haal die broodjie af en ou maat, as jy hom nou staan en verbrand het dan moet jy maar weer van voor af begin. As hy ook nie kraakvars soos spookasem in jou mond smelt nie, dan moet jy die episode maar herhaal tot vervelens toe, totdat jy dit kan regkry want anders gaan Darrel begin Zulu praat oor jy die broodjie so opdons.
 
Maar as jy mooi gekyk het en dit reg gedoen het gaan Darrel se “Spookasem Braaibroodjie” sommer so lekker wegsmelt in jou mond. Ai hoe water my kiewe nou!
 
Johan vd Walt
Wildlife South Africa